Die Kleintjie se Verjaarsdag

Dit was die kleintjie se 16de verjaarsdag verlede week.

Geen partytjie nie, asseblief, sy hou nie eintlik van mense nie.

Geen geskenke nie, asseblief, sy het nie eintlik iets nodig nie.

Haar gunsteling Rock Band is die plaaslike groep, Glaskas.

So reël ons toe maar dat hulle daardie oggend vir haar “Veels geluk liewe maatjie” kom sing by ons huis.

En vir sowat 30 minute was ek regtig “The Mother of the Year” – nie daardie sarkastiese enetjie nie.

545601_4718434322739_1270882435_n

Image | Posted on by | 3 Kommentaar

Die kleintjie

Die kleintjie en haar pa het gister ‘n warm gesprek gehad.

Oor haar klere wat so skraps is.

Daar het heelwat woorde geval – nogal vreemd vir die kleintjie – sy is eintlik heel bedaard.

Toe dit nou duidelik word dat sy nie die geveg gaan wen nie, spring sy om en snou vir haar pa so in die verbygaan:

“Laat ek nou maar net ander klere gaan aantrek want in hierdie huis is ons almal mos fucking nuns.”

Waarop die pa blitsig reageer:

“En hou op om jou tale te meng.”

So……in ons huis mag jy maar vloek…..moet net nie jou tale meng nie🙂

Posted in Uncategorized | 14 Kommentaar

sewentien jaar later

Vandag, sewentien jaar gelede, het ons uit die hospitaal gekom met ons eerste dogter. Ons was reguit na my skoonouers se huis want dit was skoonma se verjaarsdag.

Ek sal nooit vergeet hoe sy daardie dag gelyk het nie, sy was so bly vir haar eerste kleinkind, opgewonde, gesond, gelukkig, vol energie.

Nie een van ons wat daar was daardie dag sou ooit kon droom dat ons vandag weer ‘n familiebyeenkoms sou hou, hierdie keer om ‘n gedenkmuur, ‘n oop nis met twee geelhoutkissies in.

In die eerste elf jaar na daardie dag was daar so ‘n groot familietwis dat net gesinsmense toegelaat was om my skoonpa te groet voor hy skielik oorlede is, en net sy eie gesin is toegelaat by sy begrafnis, sy wense.

Vandag kon daardie gedeelte van die familie afskeid neem van hul albei en terwyl ons so gestaan het, het ek gewonder of dit werklik enige sin gemaak het.

Wat sou ‘n mens nou daarmee bereik om mense daardie laaste afskeid te verbied?

Die lewe is so kort, geniet elke oomblik, waardeer elke sekonde, laat die onbenullighede gaan…

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

FB gemors – deel 2

Een van ons dogters het verlede jaar so ‘n vieslike brief deur FaceBook gekry, lees gerus hier

Vandag vertel hulle my dat die skoolhoof gister ‘n brief gelees het wat deur een van die skoliere gestuur is aan die skool waar sy stap vir stap vertel van hierdie persoon wat haar so gestalk het op FB.

Sy het van die begin af vir haar ouers vertel, hulle het privaatspeuders en prokureurs aangestel om die persoon op te spoor maar dit het nogtans meer as ‘n jaar geneem waar hy amper 40 persoonlikhede geskep het op FB om hom vas te trek.

En natuurlik is hy in hulle skool.

Die ergste? Hy dink hy is die slagoffer, hy het mos niks eintlik gedoen nie.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Uit die mond van die suigeling

Ons huisves ‘n uitruilstudent vir twee weke.

Al die pad van Ohio af.

Die eerste aand noem sy so terloops dat haar ma ‘n regte hypochondriac is.

Ek sluk dit maar met ‘n knippie sout.

Tieners en ouers, jy weet mos.

Die tweede dag kry sy ‘n veluitslag, fyn, rooi knoppies oral op haar lyf.

Sy bel huis toe om te hoor watter medikasie sy mag neem, dit word ‘n groot bespreking.

Die student word al hoe meer ongeduldig, groet kortaf, kyk vir ons met so ‘n bewolkte gesiggie.

“My mom thinks it’s Scarlet Fever”

Posted in Uncategorized | 4 Kommentaar

waar grys hare vandaan kom

Ons huis vanaand:

Die jongste tiener sit by die eetkamertafel en skryf ‘n musiekstuk.

“Bokkie, skryf jy nie more toets nie?”

“Ja, rekeningkunde.”

“Het jy klaar geleer?”

“Nee Mamma”

“Dink jy nie jy moet leer nie?”

“Ja, seker, maar ek het nie ‘n boek nie.”

“Waar is jou boek?”

“Ek het hom vir Poppie geleen vir die toets want sy het hom meer nodig as ek.”

Posted in Uncategorized | 27 Kommentaar

Uiteindelik

Jare gelede was ek betrokke by ‘n industriële arbeid saak.

Groot hartseer vir almal in my familie maar ek het relatief goed daaruit gestap.

Maar geld is mos maar waardeloos as dit gaan oor jou selfbeeld en mens-wees.

Nou die dag hoor ek dat dit nogal sleg gaan met daardie maatskappy, ook met sekere individue.

Ek het altyd gedink ek sal my nogal kan verheug in hulle ongeluk, maar toe nie.

Eintlik het ek geen gevoelens daaroor nie, buiten miskien daardie vlugtige gedagte: “Sjoe, dit is nogal sleg vir hulle.”

Miskien is ek ook nou uiteindelik volwasse.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar