Die Kleintjie se Verjaarsdag

Dit was die kleintjie se 16de verjaarsdag verlede week.

Geen partytjie nie, asseblief, sy hou nie eintlik van mense nie.

Geen geskenke nie, asseblief, sy het nie eintlik iets nodig nie.

Haar gunsteling Rock Band is die plaaslike groep, Glaskas.

So reël ons toe maar dat hulle daardie oggend vir haar “Veels geluk liewe maatjie” kom sing by ons huis.

En vir sowat 30 minute was ek regtig “The Mother of the Year” – nie daardie sarkastiese enetjie nie.

545601_4718434322739_1270882435_n

Posted in Uncategorized | 3 Kommentaar

Die kleintjie

Die kleintjie en haar pa het gister ‘n warm gesprek gehad.

Oor haar klere wat so skraps is.

Daar het heelwat woorde geval – nogal vreemd vir die kleintjie – sy is eintlik heel bedaard.

Toe dit nou duidelik word dat sy nie die geveg gaan wen nie, spring sy om en snou vir haar pa so in die verbygaan:

“Laat ek nou maar net ander klere gaan aantrek want in hierdie huis is ons almal mos fucking nuns.”

Waarop die pa blitsig reageer:

“En hou op om jou tale te meng.”

So……in ons huis mag jy maar vloek…..moet net nie jou tale meng nie 🙂

Posted in Uncategorized | 14 Kommentaar

sewentien jaar later

Vandag, sewentien jaar gelede, het ons uit die hospitaal gekom met ons eerste dogter. Ons was reguit na my skoonouers se huis want dit was skoonma se verjaarsdag.

Ek sal nooit vergeet hoe sy daardie dag gelyk het nie, sy was so bly vir haar eerste kleinkind, opgewonde, gesond, gelukkig, vol energie.

Nie een van ons wat daar was daardie dag sou ooit kon droom dat ons vandag weer ‘n familiebyeenkoms sou hou, hierdie keer om ‘n gedenkmuur, ‘n oop nis met twee geelhoutkissies in.

In die eerste elf jaar na daardie dag was daar so ‘n groot familietwis dat net gesinsmense toegelaat was om my skoonpa te groet voor hy skielik oorlede is, en net sy eie gesin is toegelaat by sy begrafnis, sy wense.

Vandag kon daardie gedeelte van die familie afskeid neem van hul albei en terwyl ons so gestaan het, het ek gewonder of dit werklik enige sin gemaak het.

Wat sou ‘n mens nou daarmee bereik om mense daardie laaste afskeid te verbied?

Die lewe is so kort, geniet elke oomblik, waardeer elke sekonde, laat die onbenullighede gaan…

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

FB gemors – deel 2

Een van ons dogters het verlede jaar so ‘n vieslike brief deur FaceBook gekry, lees gerus hier

Vandag vertel hulle my dat die skoolhoof gister ‘n brief gelees het wat deur een van die skoliere gestuur is aan die skool waar sy stap vir stap vertel van hierdie persoon wat haar so gestalk het op FB.

Sy het van die begin af vir haar ouers vertel, hulle het privaatspeuders en prokureurs aangestel om die persoon op te spoor maar dit het nogtans meer as ‘n jaar geneem waar hy amper 40 persoonlikhede geskep het op FB om hom vas te trek.

En natuurlik is hy in hulle skool.

Die ergste? Hy dink hy is die slagoffer, hy het mos niks eintlik gedoen nie.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Uit die mond van die suigeling

Ons huisves ‘n uitruilstudent vir twee weke.

Al die pad van Ohio af.

Die eerste aand noem sy so terloops dat haar ma ‘n regte hypochondriac is.

Ek sluk dit maar met ‘n knippie sout.

Tieners en ouers, jy weet mos.

Die tweede dag kry sy ‘n veluitslag, fyn, rooi knoppies oral op haar lyf.

Sy bel huis toe om te hoor watter medikasie sy mag neem, dit word ‘n groot bespreking.

Die student word al hoe meer ongeduldig, groet kortaf, kyk vir ons met so ‘n bewolkte gesiggie.

“My mom thinks it’s Scarlet Fever”

Posted in Uncategorized | 4 Kommentaar

waar grys hare vandaan kom

Ons huis vanaand:

Die jongste tiener sit by die eetkamertafel en skryf ‘n musiekstuk.

“Bokkie, skryf jy nie more toets nie?”

“Ja, rekeningkunde.”

“Het jy klaar geleer?”

“Nee Mamma”

“Dink jy nie jy moet leer nie?”

“Ja, seker, maar ek het nie ‘n boek nie.”

“Waar is jou boek?”

“Ek het hom vir Poppie geleen vir die toets want sy het hom meer nodig as ek.”

Posted in Uncategorized | 27 Kommentaar

Uiteindelik

Jare gelede was ek betrokke by ‘n industriële arbeid saak.

Groot hartseer vir almal in my familie maar ek het relatief goed daaruit gestap.

Maar geld is mos maar waardeloos as dit gaan oor jou selfbeeld en mens-wees.

Nou die dag hoor ek dat dit nogal sleg gaan met daardie maatskappy, ook met sekere individue.

Ek het altyd gedink ek sal my nogal kan verheug in hulle ongeluk, maar toe nie.

Eintlik het ek geen gevoelens daaroor nie, buiten miskien daardie vlugtige gedagte: “Sjoe, dit is nogal sleg vir hulle.”

Miskien is ek ook nou uiteindelik volwasse.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Vreemde wêreld wat ons in leef

Ons het 6 mense verloor binne twee weke, nogal sleg.

Een baie ou tannie, sy het nie kinders van haar eie gehad nie, baie mooi goed in haar huis.

Die direkte familie is na haar huis net na die begrafnis – dring daarop aan om sommer dadelik die testament te lees.

Alles wat nie gedek is nie word op die plek opverdeel en weggedra.

Die begrafnis word ‘n shopping trip.

Weird

Posted in Uncategorized | 23 Kommentaar

die man op die catamaran

Twintig vreemdelinge op ‘n catamaran, kattumaram.

Die ou man met die Légion étrangère hoedjie vra half onbeskof “Êtes-vous Anglais?”

“No no South African” Onmiddelik is hy vriendeliker.

Vier Suid Afrikaners en vier bemanningslede wat Engels praat, die res Frans, dit gaan maar moeilik.

Die ou soldaat brand om met my man te praat, is dit nou nie snaaks hoe hierdie tipe mans mekaar instinktief herken nie?

Swem, braai vis en hoender, snorkel, luister musiek, drink plaaslike wyn, die dag vlieg verby en die ou soldaat beduie maar dit gaan maar swaar.

Net voor ons terugdraai vra die kleintjie vir koeldrank en ek gee vir haar ‘n blikkie aan, sy het intussen ‘n paar woorde opgetel tussen al die toeriste en antwoord speels “gracias a tu madre“, draai die ou soldaat onmiddelik na my man met ‘n groot glimlag: “vous parlez espagnol“!

Toe nie.

Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar

Ons Vreemde Familie

Ons is soms regtig vreemd.

Baie swart humor hier rond.

Ek dink ons het al heelwat mense aanstoot gegee en ontstig.

Maar sommige goed is net skreeu snaaks op die verkeerde tyd.

Soos die aand om die vuur net nadat ons die nuus ontvang het dat die kleintjie ernstige rug probleme het en nooit regtig weer sport sou kon doen nie, tesame met ‘n klomp ander dinge.

Almal was maar bietjie bedruk en bekommerd en die twee kiepies breek toe die stilte met ‘n stryery oor wie se beurt dit is om koeldrank te gaan haal.

Gooi die pa toe ook sy stuiwer in: “Jy daar in die hoek met die gebreklike ruggie – dis jou beurt om te gaan koeldrank haal.” En almal het ewe hard gelag. Goeie ding die oupas en oumas was nie daar nie!

Posted in Uncategorized | 3 Kommentaar